14 September, 2018

290058 hh logo adefcb original 1536926595

Vrouemaand-poging sluit af op ’n hoë noot

290056 helphetta2 29213a large 1536925417

Vyf vroue van Pretoria het Woensdag nagenoeg vyf ure lank getel aan hope sanitêre doekies wat tydens Vrouemaand aan Helpende Hand se #HelpHetta-projek geskenk is.

Benette Rautenbach, een van dié projek se organiseerders by Helpende Hand, het Donderdag gesê ’n totaal van 2 578 pakke doekies is by Solidariteit Helpende Hand se gemeenskapsentrum in Derdepoort getel.

“#HelpHetta is ’n deurlopende projek wat Helpende Hand in 2015 van stapel gestuur het om jaarliks, een keer ’n kwartaal, ’n versending doekies aan nagenoeg 3 200 meisies van nagenoeg 120 skole landwyd te stuur. Ons plaaslike takke in hul onderskeie gemeenskappe sorg dat behoeftige meisies vir die res van die jaar geholpe is,” sê Benette.

Benette vertel die #HelpHetta-projek word veral in Augustus groot gedryf aangesien dit Vrouemaand is.

“Die oorgrote meerderheid van die doekies wat Woensdag getel is, is tydens vanjaar se Worthy Women-konferensie ingesamel. Gretha Wiid, die motiveringspreker wat die jaarlikse konferensie aanbied, het die konferensiegangers gevra om sanitêre produkte saam te bring wat in houers by die deure geskenk kon word,” voeg Benette by.

“Ons is verskriklik dankbaar vir dié gebaar en dit is vir ons ’n voorreg om by een van die grootste vrouekonferensies in die land verteenwoordig en bygestaan te word.”

Volgens Benette is hulle oorweldig deur die groot hoeveelheid skenkings wat gemaak is aangesien hulle aanvanklik gemik het om sowat 1 000 pakkies sanitêre doekies vir minderbevoorregte meisies landwyd in te samel.

“Ons wil graag vir Gretha Wiid en almal wat die Worthy Women-konferensie bygewoon het, bedank vir hulle ondersteuning met die #HelpHetta-projek,” sê Lizelle Joubert, nóg ’n projekorganiseerder by Helpende Hand.

“Mense sal dit nie glo nie, maar sanitêre produkte is ʼn luuksheid in baie huishoudings. Ons het ouers wat vertel hulle moet kies tussen brood en sanitêre produkte vir hulle dogters.”

Volgens ʼn studie deur Helpende Hand in 2015 het een uit elke tien meisies in Suid-Afrika nie genoeg sanitêre produkte om deur die maand te kom nie. Die meisies is ook te skaam om vir hulp te vra en bly dus vir tot vyf dae ʼn maand by die huis. Dit het tot gevolg dat meisies baie agter raak met hulle skoolwerk en tot 55 skooldae per jaar kan misloop.

Met vrouemaand agter die rug beteken dit egter nie dat al die harde werk verby is nie.

“Pakkies word nou saamgestel met doekies asook toiletware vir meisies. Ons het ook goeie nuus ontvang dat die Arrie Nel-apteekgroep houers by al hul 17 apteke in Gauteng gaan plaas waarin die gemeenskap sanitêre doekies kan skenk. Dit houers sal eersdaags in die apteke opgerig wees,” sê Lizelle.

Volgens Hannes Noëth, uitvoerende direkteur vir Helpende Hand, is die #HelpHetta-projek geskep met die fokus om behoeftige meisies by te staan met items wat dikwels deur die meeste mense as vanselfsprekend aanvaar word.

“Jy kan ook help om tot meisies se selfvertroue by te dra en seker te maak dat hulle nie uit die skool moet bly weens ʼn tekort aan sanitêre produkte nie,” sê Hannes.

SMS die woord “HelpHetta” na 38969 en skenk R10 tot ʼn pakkie wat help om meisies in die skool te hou. Vir meer inligting oor die projek en hoe om betrokke te raak en ook by die projek te baat, besoek HelpHetta.co.za.

/Einde

Uitgereik deur Solidariteit Helpende Hand

Phillip Bruwer Skakelbeampte