28 September, 2018

290058 hh logo adefcb original 1536926595

SA se Groot 5 laat vlae wapper vir hoop

Vyf van die land se vooraanstaande Afrikaanse sangers en Helpende Hand het kragte saamgesnoer vir ’n veldtog wat poog om hoop in Suid-Afrikaners se harte te laat opvlam.

Die Land Behoort Aan Jou-veldtog gaan hand aan hand met die onlangse bekendstelling van die enkelsnittreffer, “Die Land”, wat gesing word deur Steve Hofmeyr, Bobby van Jaarsveld, Jay du Plessis, Bok van Blerk en Ruhan du Toit van Touch of Class.

“Die land” is onlangs aan radiostasies vrygestel en het reeds sy plek op talle stasies se Top 10-trefferparades ingewurm. Op sommige ranglyste is dit selfs al die no.1-liedjie. Die musiekvideo is die afgelope Sondag vir die eerste keer op Jukebox op kykNET NOU vertoon en is goed ontvang.

Die liedjie is van Maandag af, op Erfenisdag, vir verbruikers eksklusief beskikbaar op die pas vrygestelde Afrikaans is Groot Vol. 11-album, saam met ’n plakker van die veldtog se embleem wat die gemeenskap kan vertoon om ’n boodskap van hoop te versprei.

“Die land” gaan ook tydens vanjaar se immergewilde Afrikaans is Groot-konserte opgevoer word en beloof om een van die hoogtepunte te wees.

“Ek is baie opgewonde oor “Die land” en ek en my kollegas wil met hierdie lied die boodskap van hoop aan elke Suid-Afrikaner bring. Dit gaan nie net oor die situasie waarin ons is nie, maar ook oor dít waarin ons glo en wat ons wil nalaat vir ons nageslag,” sê Steve Hofmeyr.

Helpende Hand en die organiseerders van Afrikaans Is Groot sê hulle hoop dat dié lied en veldtog Suid-Afrikaners se harte trots gaan laat klop oor die land.

“Hierdie lied inspireer landsburgers om in die land te bly en daarin te belê – soos God se doel was met elke persoon wat Suid-Afrika sy tuiste noem. Met diep lirieke vanuit die pen van die bekroonde liedjieskrywer Johan Oberholzer bring die lied ’n gevoel van trots oor dit wat aan ons toevertrou is. Dit gaan selfondersoek van elke Suid-Afrikaner verg oor wat ons vir ons nageslag gaan nalaat,” sê die organiseerders van Afrikaans is Groot.

Die publiek kan die veldtog se webwerf, dielandbehoortaanjou.co.za, besoek om ’n snit van die liedjie as ’n luitoon af te laai en ook om ’n plegbelofte af te lê.

Hannes Noëth, besturende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, verduidelik met die plegbelofte ondersteun die gemeenskap hierdie inisiatief en onderneem elkeen “om sy vlag te waai en te bly saai in ons mooi land, Suid-Afrika”.

“Dit gaan nie oor die situasie waarin ons is nie, maar oor dít waarin ons glo en ’n boodskap van hoop. Die embleem dien as ’n herinnering dat - soos die vlag bly wapper, die liefde vir ons land ook sal bly staan. Dat, al verloor ons alles, niemand van ons kan wegneem wat God vir ons gegee het nie en dit is wat ons vir ons nageslag wil nalaat. Jy kan hierdie embleem vertoon as simbool van ’n openlike plegbelofte sodat almal kan sien - die land behoort aan ons almal,” sê Noëth.

Buiten die plakkers, het Helpende Hand ook talle vlae laat maak wat na die organisasie se takke landswyd versprei gaan word.

Noëth het ’n beroep op die publiek gedoen om na hul naaste Helpende Hand-takke te gaan en hul familiename op die vlae te skryf, wat sal dien as ’n belydenis vir die geslagte wat gaan kom.

“Al die getekende vlae gaan in November teruggebring word na Pretoria en by die Afrikaans Is Groot-konserte wapper as ’n simbool dat die son, see en land deur God aan ons almal gegee is. Dit is vir Helpende Hand ’n groot voorreg om hande met dié kunstenaars te vat. Ons ondersteun die veldtog met ons hele hart,” sê Noëth.

291264 die%20land%20behoort%20aan%20jou2 aa0eee original 1538115950