15 February, 2019

303769 sos logo 368d58 original 1550217258

Die Skoleondersteuningsentrum kom Vrystaat toe!

Hou vas aan julle hoedens, die Skoleondersteuningsentrum (SOS) is op pad na die Vrystaat! Ons bied reeds sewe jaar die land se GROOTSTE Afrikaanse Onderwyskongres in Kaapstad en Pretoria aan en vanjaar kry Vrystaatse onderwysers die geleentheid om dit in Bloemfontein by te woon.

Daar bestaan egter geruime tyd al ’n behoefte om die sentrale skole se onderwysers ’n geleentheid naby hul huise te bied. Daarom dat ons besluit het om vanjaar ook in die Vrystaat aan te klop.

Weens ons jare lange vriendskapsbande met Hoërskool Jim Fouché, word die kongres hier aangebied, op Vrydag 22 en Saterdag 23 Februarie 2019.

Onderwysers kan uit sowat 90 inligtingsessies deur vakspesialiste en onderwyskenners kies om by te woon. Gassprekers sluit in die humoristiese Rubriekskrywer Blouwillem, die lewensafrigter Claude Moller en Flip Buys, hoof van die Solidariteit Beweging.

Die SOS se vakspesialiste bied ook waardevolle opleidingsessies in Wiskunde, Afrikaans, Rekeningkunde en Fisiese en Lewenswetenskappe aan. 

Dr. Danie Brink, hoof van die SOS, beskryf die Onderwyskongres as ’n “koopsentrum” van inspirasie en inligting vir onderwysers. “Onderwysers se vakkennis is ’n baie belangrike veranderlike in kinders se akademiese prestasie,” sê Brink. ”Die SOS poog om onderwysers in te lig en te inspireer. Omdat vakkennis, pedagogiese kennis en die variasies tussenin so ’n komplekse veld is, baat onderwysers altyd by bykomende opleiding.”

Die koste beloop R1 600 vir SOS-lede van vakverenigings en R2 100 vir nie-lede. Vir meer inligting of om te registreer vir die kongres gaan na skole.co.za en klik op SOS-opleiding.