29 March, 2019

Ons Winkels behaal mylpaal

Ons Winkels, ’n inisiatief van Solidariteit Helpende Hand, het vandeesweek ’n mylpaal behaal met die 40’ste skenkingswinkel wat sy deure oopgemaak het sedert die inisiatief byna ’n dekade gelede begin is.

Alet Robbeson, Helpende Hand se operasionele bestuurder van die Ons Winkels, het Donderdag gesê Helpende Hand se eerste skenkingswinkel is in 2010 in Centurion oopgemaak en het gedien as ’n plek waar die publiek tweedehandse items of goedere wat hulle nie gebruik nie vir liefdadigheid kon skenk.

“Die inisiatief was so gewild en skenkingswinkels het daarna in dorpe in al die provinsies oopgemaak. In 2016 is die skenkingswinkels onder een vaandel geplaas en het dit onder die naam Ons Winkels begin handel dryf,” het Alet gesê.

Die 40’ste Ons Winkel het Woensdag amptelik sy deure by 38 Garfieldweg, Alrode in Alberton oopgemaak. Die egpaar Frans en Deirdre Burger is aan stuur van sake by dié Ons Winkel.

“Dit is sowaar ’n voorreg om deel te kan wees van hierdie inisiatief van Helpende Hand. Ek en my vrou hoop ons klein aandeeltjie hieraan kan daarin slaag om by te dra tot die groter doel waarvoor Helpende Hand staan, om sodoende ’n reuseverskil in die land te maak,” het Frans tydens die opening van die winkel gesê.

Volgens Alet mag dit Helpende Hand dalk nege jaar geneem het om dié mylpaal te behaal, maar met die ondersteuning van die gemeenskap en “uitmuntende eienaars wat ’n verskil maak daar buite” sien haar span kans om nóg 40 winkels oop te maak.

“Ons by Helpende Hand staan ek kyk trots na waar ons was, maar is meer opgewonde oor die pad vorentoe en waarheen ons op pad is,” het Alet gesê.

“Saam en in ’n japtrap kan ons almal ’n groot verskil in die gemeenskap maak, stap bloot net by jou naaste winkel in en koop of skenk iets. Dit is die ideale manier om van oorbodige goedere ontslae te raak en te weet dit gaan reg aangewend word om ’n verskil in die gemeenskap te maak,” het sy bygevoeg.

Enigiets kan by die Ons Winkels afgegee word – van klere, meubels, oudhede, kombuisware, klere, beddegoed, gordyne, speelgoed, skoene, sporttoerusting en tegnologiese ware of enigiets anders wat in die pad staan.

Ons Winkels neem hierdie goedere en omskep dit in geld wat onder meer vir Helpende Hand se studiefonds benut word. Helpende Hand se studiefonds bied rentevrye studielenings aan behoeftige studente wat kwalifiseer om verder te gaan studeer, maar nie die nodige fondse het om dit te doen nie.

Die opbrengste word ook aangewend vir verskeie ander projekte van Helpende Hand wat poog om Afrikaner-armoede te verlig, te verbreek en te voorkom. Ons Winkels dien ook as werkskepping vir die persone wat die winkel bestuur en vir personeel wat in die winkels werk.

Besoek helpendehand.co.za/takke om die naaste Ons Winkel aan jou op te spoor.

308218 ons%20winkel b3e9d6 large 1553857767