06 September, 2019

329375 shh hh 01 b0301e original 1567758204

Verlig armoede: Vind jou naaste welsynswinkel hier

Ons Winkels, ’n inisiatief van Solidariteit Helpende Hand, het vandeesweek ’n mylpaal behaal met sy 50ste welsynswinkel wat sy deure oopgemaak het sedert die inisiatief byna ’n dekade gelede begin is.

Alet Robbeson, Helpende Hand se hoof van Ons Winkels, het Donderdag verduidelik Helpende Hand se eerste skenkingswinkel het in 2010 in Centurion oopgemaak. Dit het gedien as ’n plek waar die publiek ou klere en huisware wat hulle nie gebruik nie, vir liefdadigheid kon skenk. Die skenkings en verkope daarvan is weer direk in die gemeenskap ingeploeg.

“Die inisiatief was so gewild en skenkingswinkels het daarna in stede en dorpe landwyd oopgemaak. In 2016 het die verskillende skenkingswinkels ’n eenheid gevorm en onder die vaandel van Ons Winkel begin handel dryf,” het Robbeson gesê.

Die 50ste Ons Winkel het Dinsdag amptelik sy deure in Polokwane oopgemaak.

“In die meeste Europese lande is die gedagte van welsynswinkels lankal nie meer nuut of vreemd nie. Nou, na byna 10 jaar, ook nie meer in Suid-Afrika nie. Helpende Hand het ’n fase betree waar ons hierdie winkels radikaal uitbrei, standaardiseer en ’n baie spesifieke plek in die samelewing gee waarby die skenker, koper, verkoper,  begunstigde en dan natuurlik Helpende Hand by baat. Ons Winkels bring ’n geleentheid vir almal om by te dra om die nood van ons mense te verlig,” het Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Helpende Hand, by die opening gesê.

Volgens Robbeson mag dit Helpende Hand dalk nege jaar geneem het om dié mylpaal te behaal, maar met die ondersteuning van die gemeenskap en “uitmuntende eienaars wat ’n verskil maak daar buite” sien haar span kans om nóg 50 winkels oop te maak.

“Saam kan ons almal ’n groot verskil maak – stap bloot net by jou naaste winkel in en koop of skenk iets. Dit is die ideale manier om van oorbodige goedere ontslae te raak en te weet dit gaan reg deur Helpende Hand se gevestigde strukture aangewend word om ’n verskil in die gemeenskap te maak,” het Robbeson bygevoeg.

Enigiets kan by die Ons Winkels afgegee word – van klere, meubels, oudhede, kombuisware, klere, beddegoed, gordyne, speelgoed, skoene, sporttoerusting en tegnologiese ware of enigiets anders wat in die pad staan.

Ons Winkels neem hierdie goedere en omskep dit in geld wat onder meer vir Helpende Hand se Studiefonds benut word. Die Studiefonds bied rentevrye studielenings aan studente wat kwalifiseer om verder te gaan studeer, maar nie die nodige fondse het om dit te doen nie. Die opbrengste word ook aangewend vir verskeie ander projekte van Helpende Hand wat poog om Afrikaner-armoede te verlig, te verbreek en te voorkom. Ons Winkels dien ook as werkskepping vir die persone wat die winkel bestuur en vir personeel wat in die winkels werk.

Besoek helpendehand.co.za/ons-winkel/ om die naaste Ons Winkel aan jou op te spoor.

329392 dsc 0861 0ff046 original 1567761080
329376 ons%20winkel 199e21 original 1567758340